Dobbelaar sterf ná gelukskoot by casino
2012-02-17 13:15
Singapoer – 'n Dobbelaar wat 'n meevallertjie by 'n casino in Singapoer losgeslaan het, het inmekaargesak van opgewondenheid en in die hospitaal gesterf, het die plaaslike media Vrydag berig.
Ong Seng Kee (56) het al sy geld by die Resorts World Sentosa-casino verloor nadat hy en 'n vriend Sondagaand daar gaan dobbel het. Een van sy metgeselle het hom toe geld geleen om sy geluk te beproef.
Kee het toe met S$200 (sowat R1 200) gespeel en S$5 000 (sowat R31 000) gewen, het die vriend gesê.
Terwyl hy sy geld gaan afhaal het, het hy skielik om hulp geroep en inmekaargesak, het 'n ooggetuie gesê.
Die man is na 'n hospitaal geneem, maar pogings om hom by te bring was onsuksesvol.
Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP