Dit is die vark wat so stink
2009-11-26 09:42
Sydney, Australië – Brandbestryders wat na ‘n gaslekkasie op ‘n plaas uitgeroep was, het bevind die probleem lê toe al die tyd by 'n 120kg swaar vark met 'n omgekrapte maag.
“Toe ons op die eiendom aankom, het die mense ‘n groot vark gehad wat ongeveer 20 meter van die huis af was,” het kapt. Peter Harkins gesê.
“Ek weet nie wat hulle die dier gegee het om te eet nie, maar ons het die dier beslis gehoor.”
Volgens Harkins het die eienaar van die winderige vark, om verskoning gevra dat hy 15 brandbestryders na sy plaas uitgeroep het.
“Die eienaar was in die verleentheid gestel. Ons het self ‘n tydjie geneem om onsself te kalmeer, voor ons met hom gepraat het,” het Harkins gesê.
“Ek dink ons het die voorval op ‘n professionele manier hanteer, en het wel ‘n bietjie gelag toe ons terugkom by die stasie.”
- Sapa-dpa