Discovery het nie dreigemente ernstig geag
2010-09-02 05:26
Silver Spring, Marylands - Die man wat drie mense as gyselaar by Discovery Channel se hoofkwartiere aangehou het en doodgeskiet is, het voorheen teen dié kanaal betoog.
James Jay Lee is in 2008 in hegtenis geneem omdat hy oor omgewingskwessies teen Discovery Channel betoog het.
'n Webtuiste wat onder sy naam geregistreer is, bevat eise dat Discovery programme uitsaai om mense aan te raai om op te hou kinders kry omdat dit oorbevolking van die planeet veroorsaak.
"Beskawing moet ontbloot word vir die vuilgoed wat dit is," lees die webwerf http://savetheplanetprotest.com.
"Om die planeet te red, beteken om te red wat oor is van die nie-menslike wildlewe deur die menslike bevolking te verminder. Dit beteken om die mens te stop om nog walglike babas te teel."
David Leavy, 'n woordvoerder van die Discovery Channel, het gesê hulle was bewus van hom.
"As jy volg wat hy in die openbaar aanlyn gesê het, dink ek nie dit is rasioneel nie. Ons was definitief bewus van hom, maar ons het nie enige van sy dreigemente of eise ernstig opgeneem nie."
Discovery Communications sê hulle bereik meer as 1,5 biljoen intekenaars in meer as 180 lande met Discovery Channel, TLC, Animal Planet, Science Channel en Planet Green-netwerke.
- Reuters