Dis so koud, selfs OTM’s vries
2012-02-03 08:04
Innsbruck – Minstens 120 mense is teen Donderdagmiddag dood weens die ysige koue wat groot dele van Europa in sy greep het.
In die Oekraïne het temperature van so laag as -30°C die lewe van 63 mense geëis, terwyl die Poolse owerhede bekend gemaak het minstens 29 mense het in dié land van die koue omgekom.
Die meeste slagoffers was dakloos.
Ander lande met hoë sterftesyfers sluit in Roemenië (22) en Bulgarye (10). Laasgenoemde se hoofstad, Sofia, het Dinsdag die laagste temperature die afgelope eeu gemeet.
Selfs die kitsbanke het luidens mediaberigte gevries.
Die kouefront, wat sy oorsprong in Siberië het, het Oos-Europa die swaarste getref. Wes-Europa loop egter ook deur. Swaar sneeu het land- en lugverkeer in onder meer Switserland, Oostenryk en Italië ontwrig.
Sowat 180 vlugte van Istanbul in Turkye is gisteroggend gekanselleer, terwyl honderde paaie in die ooste van dié land ontoeganklik is weens dik sneeu.
In Langegg in Oostenryk is ’n vrou (83) dood gekry waar sy op ’n daaglikse uitstappie in sneeu geval het, het die plaaslike polisie gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld