Dieretuin-eienaar tronk toe oor hy tierkarkasse verkoop
2011-03-28 11:18
Hanoi - Die eienaar van ‘n dieretuin in Viëtnam het drie jaar tronkstraf gekry omdat hy die karkasse verkoop het van bedreigde tiere wat onder sy sorg dood is.
Huynh Van Hai is tydens ‘n twee dag lange verhoor aangekla vir die verkoop van dooie tiere wat in sy dieretuin grootgemaak is in die Binh Duong-provinsie naby Ho Chi Minh.
Hai het in die hof gesê dat die tiere aan natuurlike oorsake dood is.
Vier van die tiere het glo voëlgriep gekry nadat hulle besmette hoenders in 2003 geëet het en ‘n ander tier is dood nadat hy aan ‘n been verstik het.
In plaas daarvan dat hy die gevalle aan owerhede rapporteer het soos wat hy moes, het hy die karkasse verkoop omdat hy glo die geld nodig gehad het vir die ander tiere waarvoor hy sorg.
Intussen het die hoeveelheid bedreigde tiere in Indië in die afgelope vier jaar met 300 gegroei, het omgewingsbewustes gesê.
In die woude van die land is daar nou sowat 1 706 tiere.
Bewaarders het geheime kameras en DNS-toetse gebruik om die katte in 19 Indiese state te tel waar hulle in die natuur lewe.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP