Die ‘wonderwerk’ in Parys
2010-03-07 20:05
Parys – Honderde mense het die afgelope paar weke reeds na ‘n huis in ‘n woonbuurt in Parys gestroom waar ‘n skildery van die maagd Maria glo olie-trane huil.
Volgens die eienaar van die kunswerk, Esat Altindagoglu, het die trane op 12 Februarie oor Maria se wange begin rol.
Na bewering daag daar nou byna daagliks sowat 50 mense by sy deur op om dié wonderwerk te besigtig.
“Dit is ‘n klein wonderwerk,” het Altindagoglu Sondag gesê. “Hierdie boodskap is gestuur deur die maagd en haar seun.”
Volgens Altindagoglu se vrou het sy voor die skildery gestaan en bid toe sy die trane opgemerk het. “Ek het dit gesien en gedink dit kan tog nie normaal wees nie.”
Besoekers, wat van so ver as België en Duitsland reis, bring gewoonlik ‘n stukkie watte saam sodat hulle van die olie-trane kan opvang.
– Sapa, AFP