Die einde van liefde in Parys
2009-11-09 10:55
Parys - Romantiese Parys het ‘n les gekry in die harde realiteite van verhoudings toe duisende na die hoofstad se eerste egskeiding-skou gestroom het.
Volgens die land se Nasionale Instituut van Demografiese Studies, loop omtrent een uit elke twee huwelike uit op ‘n egskeiding.
In 2007 is 130 000 egskeidings in Frankryk geregistreer.
Skaars drie dekades gelede was dit slegs 50 000.
Die “New Start” handelskou beoog om munt te slaan uit die groeiende "egskeiding mark" met 60 stalletjies wat dienste en aantreklikhede aanbied.
Van die dienste is direk verwant aan die egskeidingsproses en word aangebied deur prokureursfirmas en raadgewers.
Ander is effens obskuur en fokus meer op die individu se geneesproses.
Dié stalletjies bied alles van toekomsvoorspelling met tarotkaarte tot voorkomsverandering aan.
Verskeie konferensies is ook oor die twee dae aangebied, wat bywoners raad gee in alles van plastiese chirurgie tot wat die rol van ‘n prokureur is tydens 'n egskeiding.
Brigitte Gaumet, organiseerder, het die idee gekry toe president Nicolas Sarkozy ‘n paar maande na hy president geword het, van sy tweede vrou geskei het.
“Dit het dit vir my duidelik gemaak dat egskeiding sy stigma verloor het en ‘n baie algemene ding geword het,” het Gaumet gesê.
“Baie mense wat deur ‘n egskeiding gaan, of wat hul geliefdes aan die dood afgestaan het, soek raad in hoe om dit te hanteer en weer oor te begin.”
- AP