Dertien dood in golf van geweld in Irak
2011-03-28 18:00
Bagdad - ‘n Golf onverwante aanvalle in Irak het 13 mense dood gelaat, insluitende sewe in die noordelike stad Mosul en vier tydens ‘n rooftog van juweliersware in Bagdad, het die polisie en ander bronne Maandag gesê.
Skieters het Sondagnag by ‘n huis in ‘n berugte en arm distrik in Mosul ingestorm en ses vroue en ‘n man doodgeskiet.
“Ses vroue en een man is gisteraand doodgeskiet deur skieters wat by ‘n huis in die buurt Al-Tanak in Mosul ingestorm het,” het ‘n polisiebeampte aan AFP gesê. Dié distrik is berug vir sy bordele, wat onwettig is in Irak.
‘n Bron by die Al-Mosul-hospitaal het bevestig die lyke van ses vroue en ‘n man is hier ontvang. Hy het gesê die vroue was tussen 20 en 40 jaar oud.
Die Nineveh-provinsie is die tuiste van verskeie gewapende Islamitiese groepe, waarvan sommige met Al-Kaïda verbind word.
In die noorde van Bagdad het “skieters drie soniese bomme laat ontplof as afleiding. Toe die bomme ontplof het, het die skieters drie juwelierswinkels aangeval. Hulle het die eienaars vermoor en een persoon doodgeskiet terwyl hulle met die buit gevlug het,” het ‘n beampte in die ministerie van binnelandse sake gesê.
Nege mense is ook gewond, het hy gesê.
Bomme aan die kant van die pad in Bagdad en die stad Mussayib het ook ontplof en ‘n weermagbeampte en ‘n polisieman dood gelaat.
- Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP