Deportasie van Bin Laden se familie vertraag
2012-04-18 17:02
Islamabad – Die beplande deportasie van Osama bin Laden se familielede uit Pakistan is Woensdag vertraag as gevolg van onvoltooide regsdokumente, het ‘n prokureur vir die familie gesê.
‘n Pakistanse hof het twee weke gelede beveel dat 14 familielede, insluitende drie vroue, nege kinders en twee kleinkinders, gedeporteer moet word.
Die vroue en twee volwasse dogters van bin Laden is op 2 April tot 45 dae tronkstraf gevonnis, maar 31 dae is afgetrek vir tyd wat hulle tydens die verhoor uitgedien het.
Regter Muhammed Amir Khalil het aan dpa gesê dat die tronkstraf Dinsdag voltooi is, maar die deportasie is vertraag.
“Ons hoop dat die dokumentasie binnekort voltooi sal wees en dat hulle uitgestuur sal word,” het hy gesê.
Een van Bin Laden se vroue, Amal al-sadeh, is van Jemen afkomstig. Die ander twee, Umm-e-Hamza en Umm-e-Khalid, is van Saoedi-Arabië.
Volgens die plaaslike media het Saoedi-Arabië en Jemen se ambassades nie gewilligheid getoon om die gedeporteerdes te ontvang nie en gevolglik is die proses vertraag.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA