Denemarke: Ontploffing by barakke eis 2
2011-10-08 23:00
Kopenhagen – Twee mense is in die suide van Denemarke dood in 'n ontploffing by 'n kamp, wat voorheen as militêre barakke gedien het, het die polisie Saterdag gesê.
"Ons kan bevestig dat twee mense dood is. Daar mag nog slagoffers wees," het 'n polisiewoordvoerder, Helle Lundberg, gesê en bygevoeg dat die oorsaak van die ontploffing nog nie vasgestel kon word nie.
"Dit sal 'n paar dae neem om vas te stel wat presies gebeur het," het sy gesê.
Ulrit Mosekjaer, 'n plaaslike nooddienswerker, het gesê hy twyfel of daar enige ammunisie in die barakke was wat die ongeluk kon veroorsaak het.
"Die barakke was leeg toe dit 'n paar jaar gelede aan 'n privaateienaar verkoop is," het hy aan AFP gesê.
Lundberg het vroeër gesê dat 174 gesinne binne 'n 400 m-omtrek van die kamp in die klein dorpie Andst ontruim is, weens die gevaar van vuurwerk binne die geboue.
"Die polisie en die brandweer het die area ontruim omdat ons geweet het dat daar vuurwerk in die barakke was," het sy gesê.
Die Deense nuusagentskap Ritzau het gesê ses tot agt geboue naby die kamp is in die ontploffing beskadig.
Volg Nuus24 op Twitter.