‘Daar is hoop vir Haïti’
2010-04-15 08:02
Port-au-Prince – Die Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, het aan Haïtiane gesê haar land en die wêreld sal hulle help om hul land te herbou ná die katastrofiese aardbewing in die arm Karibiese eiland op 12 Januarie vanjaar.
Obama het Dinsdag gedurende ’n onverwagse besoek aan Haïti gesê sy is “diep geraak” nadat sy deur ’n volgepakte kamp vir oorlewendes van die ramp gery het en met kinders gesels het.
Sy is vergesel van mev. Jill Biden, vrou van visepres.
Obama het Amerikaanse en internasionale noodwerkers by ’n basis van die Verenigde Nasies geloof vir hul noodlenigingswerk in die land. “Ons het hoop omdat Amerika Haïti ondersteun, en ons het hoop omdat die wêreld Haïti ondersteun,” het sy gesê.
- Die Burger