DBV geskok oor skoolvertoning met dooie buidelrotte
2012-08-01 14:51
Wellington – ‘n Nieu-Seelandse skool is in die sop ná hulle ‘n morbiede modevertoning gelewer het waarin skoolkinders aangemoedig was om vir dooie buidelrotte kostuums aan te trek.
Die kompetisie, wat deel is van ‘n jaarlikse fondsinsameling vir die Uruti Skool, is as onaanvaarbaar deur die Nieu-Seelandse Dierebeskermingsvereniging (DBV) beskou.
Kinders by die skool het die dooie buidelrotte in verskeie kostuums, insluitend trourokke en bikini’s, aangetrek en hul toe humoristies geposisioneer, soos om ‘n fiets te ry of om ‘n skildery te verf.
“Dis nie iets wat regverdig kan word nie, diere verdien respek of hulle nou wild, mak of troeteldiere is,” het Jackie-Poles, die DBV se woordvoerder, gesê.
“Ons probeer respek teenoor diere bevorder, selfs al is hulle dood, en dit is ‘n jammerte dat dié skool kinders aanmoedig om dit te doen.”
Pauline Satton, skoolhoof by die Uruti Skool, sê sy kan nie enigiets verkeerd sien met kinders wat dooie buidelrotte aantrek nie.
“Diere is nie die enigste spesie wat geklee word wanneer hulle dood is nie, ons doen dit aan mense ook,” het sy gesê.
Sy sê die fondsinsameling het meer geld gemaak as wat verwag was.
Buidelrotte word as ‘n pes beskou in Nieu-Seeland, met meer as 70 miljoen van hulle in die land ná hulle in die 19de eeu na die land gebring is vir hulle pels.
Kyk die video hier
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP