Concordia: Passasier eis R10 miljoen ná miskraam
2012-02-06 14:00
Italië – 'n Swanger vrou wat 'n miskraam gehad het nadat die Costa Concordia verlede maand langs Italië se kus gestrand geraak het, gaan die skip se eienaars vir skadevergoeding van R10 miljoen dagvaar, het die Italiaanse media berig.
Die 30-jarige Italiaanse vrou, slegs bekend as Cristina M, was vier maande swanger toe die skip op 13 Januarie gestrand geraak het.
Hoewel sy op een van die reddingsbote na veiligheid geneem is, het sy verlede week 'n miskraam gehad.
Volgens haar dokters het sy heel moontlik die baba verloor weens intense sielkundige stres van die ontruiming van die skip en ook toe haar reddingsboot teen die rotse gebots toe dit na die oewer gedryf het.
Onderhandelaars het onlangs bekendgemaak dat die oorlewendes van die luukse Italiaanse passasierskip Costa Concordia sal elk sowat R115 000 kry. Passasiers sal ook vergoed word vir die koste van die vaart, sowel as enige reis- en mediese uitgawes.
In Frankryk het van die passasiers die aanbod van die hand verwys en aanklagtes by Franse howe ingedien. In Duitsland het 'n groep van 19 toeriste kriminele klagtes teen die kaptein van die skip Francesco Schettino ingedien.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP