Concordia: Kaptein ondervra, 29 steeds vermis
2012-01-17 22:44
Giglio – Aanklaers het die kaptein van die Costa Concordia ondervra terwyl reddingswerkers op soek was na die 29 mense wat ná die skeepsramp steeds vermis is.
Kaptein Francesco Schettino staar veelvuldige aanklagte van manslag in die gesig. Hy word ook daarvan aangekla dat hy die passasierskip voortydig verlaat het.
Regters moet nou besluit of hulle sy inhegtenisneming moet bevestig. Schettino kan tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word indien hy skuldig bevind word.
Die aanklaer Francesco Verusio sê die bevel om die skip te ontruim is Vrydagaand om 22:58 (23:58 SA tyd) gegee, het die Italiaanse media berig. Dit is ‘n meer as ‘n uur nadat die skip ‘n rots naby die Italiaanse eiland Giglio getref het.
Die eienaars van die skip sê die kaptein het die passasierskip te na aan die kus gestuur.
Die skip het ten tyde van die voorval 4 200 mense aan boord gehad.
Volgens die nuusagentskap Ansa word Schettino in die stad Grosseto ondervra.
Intussen het reddingswerkers hul soektog na die vermiste mense voortgesit.
Volgens Italiaanse beamptes is 29 mense nog vermis – ses Italianers, 14 Duitsers, vier Franse, twee Amerikaanse burgers, en een elkeen van Hongarye, Indië en Peru.
Sapa-AFP berig die lyk van ‘n sewende slagoffer is Dinsdag uit die skip gehaal.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA