Colombia se president het prostaatkanker
2012-10-02 10:35
Bogota – Pres. Juan Manuel Santos van Colombia het Maandag bekendgemaak dat hy prostaatkanker het, maar die gewas is vroeg gevind en sal in die week verwyder word.
Die 61-jarige Santos het met sy vrou, Maria Clemencia, aan sy sy aan verslaggewers by die presidensiële paleis gesê dat hy ‘n 97% kans het om ten volle te herstel.
“Dit is ‘n klein gewas wat in sy prostaatklier is en die prognose is goed, dus nie aggressief nie,” het Santos gesê.
Hy sê hy het beplan om later Maandag na Lima, Peru, te vlieg vir ‘n beraad van Suid-Amerikaanse en Arabiese leiers en sal dan Woensdag met sy terugkeer na Bogota ‘n operasie ondergaan.
Santos sê die operasie sal onder lokale verdowing gedoen word, so dit sal nie nodig wees vir hom om tydelik afstand doen van sy presidensiële verantwoordelikhede nie.
Sy dokters het aan hom gesê die operasie plaas hom in geen gevaar nie, “maar hulle beveel aan dat ek nie ná die operasie en nadat ek die hospitaal verlaat reis vir verskeie weke nie”.
Santos se dokter, Felipe Gomez, was saam met hom en het gesê Santos se situasie is “algemeen onder mans.”
– Volg Nuus24 op Twitter