Colombia: Grondverskuiwing begrawe dalk 200
2010-12-06 11:06
Kaapstad – ‘n Grondverskuiwing wat talle huise in Colombia, Suid-Amerika, verswelg het, het na beraming 200 mense begrawe, berig Sky News.
Weke se stortreëns het tot 'n grondverskuiwing in die land se tweede grootste stad, Medellin, gelei.
“Ons skat daar is omtrent 150-200 mense wat vermis word,” het Cesar Uruena, ‘n Rooikruis-beampte, gesê.
“Ons het tot dusver drie mense gered.
“Op die oomblik fokus ons daarop om die puin te verskuif in die hoop dat ons nog oorlewendes sal vind.”
Die aardverskuiwing het 10 huise, elk met drie verdiepings, begrawe.
“Omdat meeste mense Sondae by die huis is, reken ons dat daar tussen 15 en 20 mense in elke huis was,” het Uruena gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.