Colombia: 36 sterf in swaar reën, modderstortings
2011-11-07 10:06
Anizales, Colombia – Minstens 36 mense is dood en tientalle word steeds vermis ná dae se swaar reën en modderstortings die afgelope naweek in die weste van Colombia, het ‘n amptelike telling Sondag aangedui.
In Manizales, die hoofstad van Caldas, het ‘n modderstorting huise vernietig en die lewens van 29 mense geëis, terwyl talle mense vermis word.
‘n Rivier in Cali wat sy banke oorstroom het, het die lewens van sewe mense geëis, van wie die meeste kinders was.
Die kantoor van die nasionale noodbestuur het gesê dit was nie duidelik hoeveel mense nog ná die twee voorvalle vermis word nie.
Sowat 150 reddingswerkers en 450 polisielede het laat Sondagaand nog gewerk om oorlewendes onder die puin in Manizales te vind. Dié stad het ‘n bevolking van sowat 350 000 mense.
Colombia het hierdie jaar een van die ergste reënseisoene in die land se geskiedenis gehad, met tientalle mense wat dood is en sowat 250 000 wat uit hul huise ontruim is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP