Clinton veroordeel rolprent oor Islam
2012-09-13 23:00
Washington – Hillary Clinton, die VSA se minister van buitelandse sake, het 'n rolprent oor Islam wat geweld in die Midde-Ooste aangewakker het, veroordeel.
Sy het ook verseker dat die Amerikaanse regering niks met die rolprent te doen het nie.
“Vir ons, en vir my persoonlik, is hierdie video walglik en verwerplik. Dit blyk asof dit ‘n diep siniese doel het om ‘n magtige geloof af te kraak en om woede uit te lok,” het Clinton gesê.
“Die Amerikaanse regering het niks met hierdie video te doen nie. Ons keur ook die inhoud en boodskap daarvan af.”
“Daar is ook geen regverdiging, absoluut geen, om op ‘n video met geweld te reageer nie,” het Clinton benadruk.
Betogings het buite die Amerikaanse ambassades in Egipte, Libië, Jemen en ander lande uitgebreek uit protes teen 'n rolprent wat glo beledigend is teenoor Islam.
Die rolprent is deur 'n Israelies-Amerikaanse regisseur gemaak, en beskryf Islam as 'n "kanker".
Die dokumentêr, Innocence of Muslims, is deur ene Sam Bacile (52) van Suid-Kalifornië vervaardig.
In Libië het gewapende aanvallers die Amerikaanse konsulaat in Benghazi aangeval. Die Amerikaanse ambassadeur, Chris Stevens, en nog drie diplomate is in die nadraai van dié aanval dood.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP