Clinton spreek voedselkrisis aan
2009-09-27 03:10
New York - Ban Ki-moon, hoof van die Verenigde Nasies (VN) en Hillary Rodham Clinton, Amerika se minister van buitelandse sake, het Saterdag ‘n beroep gedoen dat daar vinnig aksie geneem moet word om internasionaal te verseker dat mense kos het.
Miljoene ly honger as gevolg van die ekonomiese krisis en klimaatsverandering.
Clinton het gesê dat kroniese hongersnood en die onruste wat dit kan veroorsaak “een van die dringendste kwessies is wat ons wêreld in die gesig staar”.
Sy het gesê dat dit noodsaaklik is om ‘n omvattende, gekoördineerde manier te vind om die probleem te benader en om ewe veel op die produksie van kos en noodhulp te fokus om hongersnood te voorkom.
“Hierdie is ‘n kwessie wat ons almal raak, want voedsel-sekuriteit gaan oor ekonomiese, omgewings en nasionale sekuriteit vir elke land,” het Clinton gesê.
“Daar is meer as genoeg kos in die wêreld en tog is meer as een biljoen mense vandag honger,” het Ban gesê.
“Dit is onaanvaarbaar.”
Voedseltekorte wat in 2008 in sommige ontwikkelende lande tot onrus gelei het, het nou bedaar, maar daar is steeds ernstige tekortkominge in die huidige benadering tot hongersnood, het hy gesê.
“Die voedselkrisis is nog lank nie verby nie,” het Ban gesê.
“Toenemend meer mense kan nie die kos kry wat hulle nodig het nie, omdat die pryse so hoog is, of omdat hul koopkrag gedaal het as gevolg van die ekonomiese krisis, of omdat dit nie gereën het nie en gevolglik kon hul gewasse nie groei nie.”
Ban en Clinton het gesê dat die nuwe pogings kleinboere, waarvan baie vroue is, moet touwys maak met goeie kennis oor boerdery om hul landerye en infrastruktuur te verbeter en om ‘n oormaat kos by markte uit te kry.
- Sapa