Clinton se Noord-Korea besoek ‘n sukses
2009-08-05 15:19
Seoul – Die voormalige president van die VSA, Bill Clinton, het Woensdagoggend sy besoek aan Noord-Korea afgesluit met twee bevryde joernaliste en ‘n opening vir kerngesprekke met Kim Jong-Il.
Clinton het Dinsdag die Asiatiese land oorreed om twee Amerikaanse joernaliste vry te laat.
Die joernaliste, Laura Ling en Euna Lee, was sedert Maart in aanhouding in die Stalinistiese land.
Die vroue, van gedeelde Noord-Koreaanse en Amerikaanse herkoms, sal saam met Clinton na Los Angeles reis om met hul families herenig te word.
Ling en Lee is in Junie tot 12 maande harde arbeid in Noord-Korea gevonnis. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle Noord-Korea onwettiglik vanuit China binnegegaan het.
Noord-Koreaanse waarnemers meen ook Clinton se besoek het die deure oopgemaak vir onderhandelinge met Noord-Korea rondom Pjongjang se kernprogram en om verhoudinge met Kim Jong Il se regime te ontdooi.
Noord-Korea het hierdie jaar op verskeie geleenthede internasionale kritiek uitgelok ná ‘n kernwapentoets en verskeie missiellanserings.