Christus-beeld deur vandalisme beskadig
2010-04-16 17:50
Rio de Janeiro – Brasiliaanse owerhede het Vrydag graffiti wat op Rio de Janeiro se bekende Christus-standbeeld gesproei is, begin afwas.
Die standbeeld is deur vandalisme bederf nadat toegang tot die beeld weens swaar reën verbied is.
Swart graffiti is op die standbeeld se kop en arms, wat uitstrek oor Rio de Janeiro, gesproei.
Iemand het onder meer die “tergende” frase When the cat's away, the mouse will play (wanneer die kat weg is, is die muis baas) op dié merkwaardige monument gesproei.
Volgens Bernardo Issa, hoof van die Tijuca nasionale park, is die area van die skade baie groot.
Die 40 m hoë standbeeld, met Christus se arms wat uitstrek oor Rio de Janeiro, is die monument wat die meeste besoekers in Brasilië – sowat 1,8 miljoen per jaar – ontvang.
Minstens 246 mense is dood weens grondverskuiwings wat dié maand deur swaar reën veroorsaak is.
- Sapa-AFP