Christene uitgelewer aan Moslem-ekstremiste
2009-08-03 21:40
Genève – Die Wêreldraad van Kerke sê Pakistan se regering doen nie genoeg om Christene te beskerm nie ná sewe Christene Saterdag lewend aan die brand gesteek in Punjab.
Die organisasie het Maandag gesê hy is bekommerd omdat Pakistan nie genoeg voorkomende stappe neem om aanvalle op die land se Christen-minderheid te verhoed nie.
Sewe Christene is Saterdag lewend verbrand en 40 huise wat aan lede van die kerk behoort het, is afgebrand in Gojra, ‘n stad in die oostelike Punjab-provinsie.
“Die polisie en beskermingsmagte kon die moorde en saakbeskadiging verhoed het deur tydige optrede teen militante aanhangers van Islam,” het Samuel Kobia, hoof van die Wêreldraad van Kerke, aan die Pakistanse premier, Asif Ali Zardari, geskryf.
Saterdag se geweld is ontketen toe lede van ‘n protesoptrede klippe na Christene se huise gegooi het. Die groep het beweer dat die Christene die Koran ontheilig het.
Die land se minister vir minderhede, Shahbaz Bhatti, het ná die insident gesê die polisie en burgerlike administrasie doen min om Pakistan se Christen-minderheid te beskerm.
- Sapa - AFP