Christene lewe nou in vrees
2010-11-11 09:07
Bagdad – Christene in Irak leef opnuut in vrees nadat minstens drie mense Woensdag gedood en talle gewond is in bom- en mortieraanvalle in die Irakse hoofstad, het veiligheidsbronne gesê.
Dit volg 10 dae ná ’n bloedige beleg by ’n Rooms-Katolieke kerk hier waarin 52 mense dood is.
Woensdag se aanvalle het tot hernude vrese onder Christene gelei, wat die minderheid in die land is, dat Soennitiese Moslem-insypelaars hulle uit Irak wil verdryf en sektariese geweld wil aanblaas terwyl Irakse politici oor die vorming van ’n nuwe regering verskil.
Aanvallers het bomme laat afgaan of mortiere gevuur in meer as ’n dosyn aanvalle waarin Christene Woensdag en Dinsdag hier geteiken is, het die bronne gesê.
’n Irakse polisiebron het gesê drie mense is dood en 37 gewond, terwyl ’n bron in die ministerie van binnelandse sake gesê het vier mense is dood en 33 gewond. Albei wou anoniem bly.
“Wat kan ons doen? Hulle teiken Christene in elke woonbuurt in Bagdad,” het Emmanuel III Delly, die Chaldeërse vader van Bagdad, in ’n telefoniese onderhoud gesê.
“Ons kan niks doen om hulle te keer nie, maar ons kan bid dat God dié misdade keer.”
Die jongste vlaag bom- en mortieraanvalle het reg oor Bagdad gebeur. Mortiere het in die suidelike Doura-distrik te lande gekom, terwyl bomme naby die huise van Christene in verskeie voorstede geplant is.
“Die operasies wat op Christene gemik is, is ’n voortsetting van die aanval op die Salvation-kerk (op 31 Oktober),” het die bron van die ministerie van binnelandse sake gesê.
Um Noora (46), ’n Christen-staatsamptenaar wat in die voorstad Camp Sara woon, het gesê sy is angsbevange en is onseker of sy Irak moet verlaat of moet aanbly.
“Ek het die bewerasie en het nie vandag gaan werk nie. My dogter het ook nie universiteit toe gegaan nie,” het die ma van drie gister gesê.
“Ons lot is onseker. Hulle kan ons enige oomblik aanval, net God weet. Dit is die regering se verantwoordelikheid om ons te beskerm. Ons is in ’n strik – die see is voor ons en die vyand agter ons. Ons weet nie wat om te doen nie,” het Noora gesê.
Vader Delly het gesê dit is duidelik dat insypelaars Christene uit Irak wil dryf. “Irak is ons geliefde land en Moslems is ons broers, so hoekom doen hulle dit? Waarom teiken hulle ons?”
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters