'Christene en Moslems kan nie saam aanbid'
2010-10-28 08:45
Den Haag - Christene en Moslems kan nie saam aanbid nie; daarvoor verskil hulle teologies te veel van mekaar.
Só meen die opstellers van ’n verslag wat oor twee weke op die sinode van die Protestantse Kerk van Nederland (PKN) – ’n samesmelting van die Nederlandse Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerk van Nederland en die Evangelies-Lutherse Kerk – bespreek sal word. Die verslag is vandeesweek op die PKN se webwerf gepubliseer.
Die maatskaplike en kulturele betrekkinge tussen gebore Nederlanders en Moslem-immigrante is tans ’n warm tema in dié land. Die idee van ekumeniese aanbidding waaraan sowel Christene as Moslems deelneem, is teen dié agtergrond reeds meer as een keer geopper.
Volgens die verslag moet nie alle vorms van samewerking verwerp word nie. “Op veel punte deel Christene en Moslems in Nederland kommer oor ’n harder wordende sekulêre samelewing waarin toegewyde vorme van geloof onder druk staan,” word gesê.
Christelike kerke en Moslem-organisasies het byvoorbeeld ook gesamentlike proteste teen die ekstreem-regse politikus mnr. Geert Wilders se demonisering van die Islam laat hoor, luidens die verslag. Bowendien moet die kerk diskriminasie op grond van godsdiens en etnisiteit teenstaan.
Tog, as die kerk sy integriteit wil behou, sal hy oor Jesus Christus moet getuig, en dit moet hy met respek teenoor die Moslems doen.
Dus kan daar geen gesamentlike aanbidding wees nie. “Die gebed tot die drie-enige God en in die naam van Christus onderskei die gebed van die kerk wesenlik van dié van die moskee. Dit beteken ook dat Islamitiese en Christelike religieuse vierings nie sommer in mekaar geskuif kan word nie.”
- Die Burger