Chirac se gesondheid pootjie dalk verhoor
2011-09-05 15:38
Parys – Die voormalige Franse president Jacques Chirac se lang verwagte verhoor vir die misbruik van
publieke fondse word
Maandag hervat, maar volgens senior neuroloë is die 78-jarige oud-president nie
gesond genoeg om die verhoor by te woon nie.
Chirac word daarvan beskuldig dat hy staatsgeld verduister
het om sy politieke party te baat terwyl hy die burgemeester van Parys was tussen
1977 en 1995.
Regter Dominique Pauthe sal ‘n mediese ondersoek hersien om
vas te stel of Chirac geestelik geskik is om tydens die verhoor ondervra te
word.
Die aantygings is reeds in 2007 teen Chirac gemaak toe sy
presidensiële immuniteit verstryk het. Ná jare se vertragings en wetlike
struikelblokke is die laaste hekkie in Junie oorkom en is die saak op die rol
geplaas selfs nadat Chirac aangebied het om die geld te betaal om die saak te
skik.
Chirac se vrou Bernadette, beweer reeds vir ‘n geruime tyd
lank dat haar man probleme met sy geheue ondervind, moontlik as gevolg van ‘n
beroerte wat hy verskeie jare gelede gehad het.
– Volg Nuus24 op
Twitter.
- Sapa-DPA