Chinese sakeman moontlik dood aan giftige katvleis
2012-01-04 13:18
Beijing – Die polisie in China ondersoek die dood van ‘n miljardêr wat moontlik deur vergiftigde katvleis vermoor is.
Long Liyuan is verlede maand ná ‘n sake-ete in die suidelike stad Yangjiang dood nadat hy ‘n fynproewersdis van katvleis geëet het.
Volgens ‘n aanlyn-verklaring deur die stad se polisie is een van Long se vennote wat saam met hom middagete gehad het, Huan Guang, in hegtenis geneem nadat hy daarvan verdink word dat hy die kos met ‘n giftige krui besmet het.
In die verklaring, wat Maandag uitgereik is, word genoem dat Huang en Long dispute oor besigheid gehad het.
Alhoewel al drie mans wat die middagete geëet het siek geword het, het slegs Long gesterf, aangesien hy meer van die krui ingekry het.
Long se familie beweer dat hy moontlik met opset vergiftig is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP