Chinese media gedreig oor treinongeluk
2011-08-01 15:26
Beijing – China se media het hul kritiese beriggewing oor die hoë-spoed treinongeluk wat dié land geruk het, afgeskaal nadat die regerende Kommunistiese Party aangekondig het dat hulle strenger sensuur op die media sal toepas.
Talle Chinese koerante het sensuurwette die afgelope week geïgnoreer om ongewoon aggressief te berig oor die ongeluk op 23 Julie toe minstens 40 mense dood is toe twee hoë-spoed treine teen mekaar gebots het.
Die regering het veral deurgeloop omdat hulle die tegnologie waarmee dié sneltreine werk, as 'n voorbeeld van die land se tegnologiese voortuitgang gepropageer het.
Die regering het Vrydag besluit om sensuur op die media strenger toe te pas om die media se kritiek op die treinstelsel te stop, het die China Media Projek by die Universiteit van Hong Kong gesê.
“’n Kennisgewing is uitgereik wat daarop aangedring het dat die Chinese media onmiddellik hul aggressiewe berigte oor die ongeluk stop, en talle media moes skarrel om die gate in hul koerante met ander nuus te vul toe beriggewing oor die ongeluk skielik buite perke was,” het Qian Gang en David Bandurski van die Media Projek gesê.
Verskeie gewilde koerante het Maandag ligte nuus, soos die wêreldswemkampioenskappe wat tans in Shanghai plaasvind, op hul voorblaai gehad.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA