Chinese amptenaar ry baba dood
2013-02-05 08:39
Beijing – 'n Amptenaar in China wat 'n egpaar wou beboet omdat hulle die land se omstrede een-kind-beleid oortree het, het hul 13 maande oue babaseuntjie met sy motor doodgery, het 'n plaaslike woordvoerder Dinsdag gesê.
China se bevolkingsbeleid, wat meer as 30 jaar gelede ingestel is, vereis dat egpare wat meer as een kind het 'n "sosiale opvoedingsboete" betaal, terwyl vroue in sommige gevalle gedwing word om aborsies te ondergaan.
Owerhede in die stad Wenzhou ondersoek nou die voorval om te probeer vasstel hoe die baba onder die amptenaar se motor beland het, het 'n woordvoerder, wat slegs as Zhou bekendstaan, aan AFP gesê.
"Die gesin was ontsteld," het hy gesê. "Nadat hy die motor aangeskakel het om hulle na 'n kantoor te neem waar die kwessie verder bespreek sou word, het die amptenaar die baba onder die voertuig gevind."
Die kind is na 'n hospitaal geneem, maar sy beserings was noodlottig.
Die People's Daily het berig dat die ma in die motor gesit het en die pa besig was om in te klim toe die voorval plaasgevind het.
Dit is nie bekend hoeveel kinders die egpaar het nie.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP