Chinese MIV-lyer dagvaar staat
2011-09-08 10:11
Beijing – ‘n Chinese man dagvaar plaaslike owerhede wat hom na bewering nie by ‘n laerskool wou aanstel nie weens die feit dat hy MIV-positief is.
As sy aansoek by die hof slaag, sal die saak die tweede van sy soort word om in China, waar daar dikwels teen mense met MIV en Vigs gediskrimineer word, plaas te vind.
Volgens die 27-jarige man het hy in April ‘n onderhoud en toets vir ‘n onderwyserspos in die suid-westelike provinsie van Guizhou geslaag, maar is hy ná ‘n gesondheidstoets die pos geweier.
“Die owerhede het aan my gesê hulle kan my nie in diens neem nie, want my uitslae wys ek is MIV-positief,” het die man, wat die skuilnaam Xiao Hai gebruik, gesê.
Volgens Xiao se prokureur breek die owerhede se besluit die 2008 Wet op die Voorkoming en Behandeling van Aansteeklike Siektes sowel as ander regulasies wat werkgewers verbied om teen pasiënte met die MI-virus te diskrimineer.
Volgens amptelike statistiek leef ten minste 740 000 mense in China met die MI-virus.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA