China versterk militêre magte in Afrika
2011-12-20 20:20
Johannesburg – China is besig om sy militêre teenwoordigheid in Afrika en die Indiese Oseaan te versterk om Beijing se ekonomiese belange in die gebied te beskerm, het RSG Dinsdag berig.
China het die afgelope drie weke in 'n groot mate begin om Ugandese magte te steun wat in Somalië bedrywig is, en ook om die Seychelle te help om seerowery te beveg.
'n Lid van Brussel se instituut van Chinese eietydse studies - Jonathan Holslag - het gesê dit is duidelik dat Chinese leiers besef dat militêre optredes nodig is om hul buitelandse belange te beskerm.
Holslag sê dat die Indiese Oseaan strategies belangrik is vir China omdat 85% van sy olie-invoere en 60% van sy uitvoere deur die Golf van Aden moet gaan.
China het nog nie 'n militêre basis in die streek nie - net drie vaartuie in die Golf wat Somaliese seerowers moet keer.
Hy sê China se militêre strukture en verhoudings met eilande in die Indiese Oseaan, is egter besig om momentum te kry.
Volg Nuus24 op Twitter.
– RSG