China verander dalk beleid oor kinders
2012-11-28 12:54
Beijing – China oorweeg dit om sy beleid wat onder sekere omstandighede slegs een kind per gesin toelaat, te verander, het ‘n voormalige gesinsbeplanningsamptenaar gesê.
Die regering kan die besluit neem omdat China, die land met die grootste bevolking ter wêreld, se samelewing vinnig besig is om te verouder.
Volgens die voorgestelde veranderings sal gesinne glo toegelaat word om ‘n tweede kind te hê, al is een van die ouers nie ‘n enigste kind nie, het Zhang Weiqing, voormalige hoof van gesinsbeplanning, Woensdag gesê.
Volgens die huidige reëls word ouers net ‘n tweede kind toegelaat as beide ouers nie broers of susters het nie.
Amptenare het daarop gewys dat die beleid soos dit tans toegepas word, verantwoordelik is vir die vinnige veroudering van die Chinese bevolking, wat later groot ekonomiese implikasies kan hê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters