China tree weer op oor melk met gif in
2010-07-14 09:30
Antoinette Pienaar en Sapa-AP
Johannesburg - China het weer beslag gelê op melkpoeier wat met die toksiese middel melamien besmet is.
Dit het gebeur skaars twee jaar nadat ses babas dood is en sowat 300 000 siek geword het weens blootstelling aan melamien.
Meer as 75 ton besmette melkpoeier in die Jiangsu- en die Jilin-provinsie is gekonfiskeer.
Dit het gebeur nadat die Verenigde Nasies (VN) se liggaam vir voedselstandaarde, die Codex Alimen- tarius-kommissie, Dinsdag riglyne vasgestel het vir die maksimum toelaatbare hoeveelheid melamien in voedsel.
130 lande het in Genève, Switserland, vergader oor voedselveiligheid.
Twee mans is vroeg verlede jaar in China tereggestel en meer as 20 mense skuldig bevind ná die 2008-skandaal.
’n Ondersoek het getoon middelmanne het verwaterde melk aan suiwelmaatskappye verkoop.
Hulle het stikstofryke melamien by die melk gevoeg om gehaltetoetse vir proteïen te flous.
Talle lande het die invoer van Chinese melkprodukte opgeskort.
In Suid-Afrika is White Rabbit-lekkergoed aan die mark onttrek.
Later daardie jaar het Nestlé sekere besendings van sy Lactogen 1- en Nido 1+- melkformule aan die mark onttrek weens melamienvlakke wat nie “gevaarlik” was nie, maar wel hoër as internasionale riglyne (naamlik 1,6 mg/kg en 3 mg/kg pleks van minder as 1 mg/kg voedsel).
Die verhoogde melamienvlak is waarskynlik veroorsaak deur melamienbesmette beesvoer.
Die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid het vroeg verlede jaar regulasies in die Staatskoerant gepubliseer vir maksimum melamien-vlakke in kosprodukte.
Dit is in ooreenstemming met die jongste VN-riglyne.
Kos vir kinders jonger as drie jaar mag nie meer as 1 mg melamien per kilogram kos bevat nie.
Vir alle ander kos is die maksimum vlak 2,5 mg/kg.
Kos wat meer as die toelaatbare vlak melamien bevat, word as “besmet”, “onsuiwer” of “mee gepeuter” beskou, het die departement verduidelik.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie kan die VN-vlakke nie wetlik afgedwing word nie, maar lande kan invoer van verskaffers wat dit ignoreer, verbied.
Melamien word gewoonlik in plastiek en kunsmis gebruik en baie klein hoeveelhede kan toevallig in voedsel beland tydens die vervaardigingsproses.
Dit kan nierstene en nierversaking veroorsaak.
Luidens ’n studie in die Februarie-uitgawe van die Canadian Medical Association Journal het 12% van die ongeveer 300 000 Chinese kinders wat siek geword het blywende nierskade.
- Beeld