China-teregstelling: Zuma het probeer ingryp
2011-12-12 09:35
Johannesburg – Pres. Jacob Zuma het probeer ingryp by die teregstelling van 'n Suid-Afrikaanse vrou in China, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking gesê.
"Hy het ingegryp. Al die nodige ingrypings is op elke moontlike vlak, selfs die hoogstes, gedoen," het Clayson Monyela, woordvoerder van die departement, gesê.
"Alles het deur 'n diplomatieke proses gebeur en daar is baie min wat rondom dit gedoen kan word."
Janice Bronwyn Linden (35) is Maandagoggend met 'n dodelike inspuiting in China tereggestel vir dwelmsmokkelary, het die eNews-kanaal berig.
Linden (35) van KwaZulu-Natal is in November 2008 met 3 kg tik gevang. Sy is in Julie 2009 die doodstraf opgelê.
Linden, wat haar moontlike appèlprosesse gebruik het, was nie bewus van haar teregstelling nie. Die veroordeeldes word eers die oggend van die teregstelling in kennis gestel.
Monyela het gesê Linden se familie was teenwoordig vir die teregstelling.
"Ons het nou saam met die familie gewerk en beamptes van die ambassade is daar om konsulêre ondersteuning aan die familie te bied."
Een van Linden se familielede het aan The Mercury gesê: "Ons het briewe aan mekaar geskryf. Sy het gesê sy weet nie hoe die dwelms in haar bagasie beland het nie," het hy gesê.
"Haar vonnis is nie regverdig nie. Hoe kan jy 'n persoon se lewe neem vir drie kilogram tik?"
Chinese owerhede sal haar lyk veras en die as aan die familie stuur.
'n eNews-korrespondent in Asië het gesê Linden se teregstelling kon dalk tot lewenslange tronkstraf verander word indien sy skuldig gepleit het.
Monyela het gesê die departement kan nie kommentaar lewer op die berig nie, want hy weer nie hoekom die Chinese regering met die teregstelling voortgegaan het nie.
Die teregstelling sal ook nie 'n impak hê op Suid-Afrika se handelsverhouding met China nie, het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA