China ontplooi 8 000 ekstra polisiebeamptes
2012-01-31 16:24
Beijing – Owerhede in China se Xinjiang-streek beplan om 8 000 ekstra polisiebeamptes te werf om sekuriteit in dié omgewing op te skerp, het 'n regeringsbeampte Dinsdag gesê.
Xinjiang, wat in die noordweste van China geleë is, is die tuiste van ongeveer 9 miljoen mense en gaan die afgelope paar jaar gebuk onder geweld.
Hou Hanmin, 'n woordvoerder vir die regering in Xinjiang, het gesê owerhede beplan om die eerste groep nuwe polisiebeamptes, wat ongeveer 4 000 of die helfte van die totaal gaan wees, hierdie jaar te werf.
"Ons is besig om die teenwoordigheid van polisiemagte uit te brei. Die hoofrede hiervoor is omdat ons nie genoeg polisiebeamptes het wat plattelandse gebiede dek nie," het sy gesê.
Sewe mense is in Desember tydens gewelddadige aanvalle in die streek dood.
Dié streek is in Julie verlede jaar ook deur drie dodelike aanvalle getref waarin tientalle mense dood is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA