China in rou oor aardbewing-slagoffers
2010-04-21 04:52
Xining, China – Die voorblaaie van koerante in China was Woensdagoggend in swart gehul terwyl vlae oor die hele land heen halfmas gehang het ter nagedagtenis aan die slagoffers van 'n verwoestende aardbewing in dié land.
Vlae sal ook Woensdag halfmas hang by Chinese ambassades wêreldwyd as teken van meegevoel vir Chinese burgers wat geraak is deur die aardbewing in die noordweste van die land, wat minstens 2 064 lewens geëis het.
'n Verdere 175 mense word steeds vermis na die aardbewing, waarin meer as 12 000 beseer is. Sneeu en ysige temperature dra by tot die moeilike situasie waarin oorlewendes hulle tans bevind.
Die aardbewing het gelei tot die ineenstorting van duisende moddersteen- en houthuise in die Yushu-streek van Qinghai, 'n bergagtige gebied wat hoofsaaklik deur Tibetane bewoon word.
- AFP