China boelie lande oor Dalai Lama, bewys navorsing
2011-10-10 09:38
Den Haag – China boelie lande wat die Dalai Lama op hoë regeringsvlak ontvang, luidens ’n studie van twee Duitse navorsers, Andreas Fuchs en Nils-Hendrik Klann, albei verbonde aan die departement ekonomie aan die Universiteit van Göttingen.
Die studie het die handelsyfers van 159 lande met China tussen 1991 en 2008 ondersoek en gekyk of daar ’n korrelasie is met besoeke van die Dalai Lama op hoë regeringsvlak.
Die bevinding is dat sulke besoeke tussen 1991 en 2002 geen gevolge gehad het nie.
Sedert 2002, toe pres. Hu Jintao die bewind oorgeneem het, het dit verander. Van toe af het die besoeke van die Dalai Lama saam die betrokke lande se uitvoer aan China met tussen 8,1% en 16,9% laat afneem, afhangende van die meetmetode.
Dit is veral die uitvoer van masjinerie en vervoertoerusting wat geraak word. Die uitwerking neem egter af in die tweede jaar ná die besoek.
In die studie, gedateer April 2011, wys hulle op die voorbeeld van Frankryk, waar die Dalai Lama in 2009 deur pres. Nicolas Sarkozy ontvang is. Twee handelsafvaardigings het besoeke aan Frankryk later die jaar gekanselleer.
Hulle wys ook op die dramatiese afname in die uitvoer van Noorse salm nadat dié land se parlement die Nobelprys vir vrede verlede jaar aan die Dalai Lama toegeken het.
Fuchs en Klann sê dit lyk of China se boelietaktiek vrugte afwerp. Die Dalai Lama is in die verlede dikwels deur Latyns-Amerikaanse regeringsleiers ontvang, maar sedert 2006 is dit laer amptenare wat hom te woord staan.
Ook in Duitsland kan dit gesien word. Aanvanklik het die Tibettaanse geestelike leier met die bondskanselier gepraat, maar nadat dit tot beduidende probleme met China gelei het, is hy die jaar daarop deur iemand met ’n laer status ontvang.
China se groeiende stelligheid weerspieël sy groter ekonomiese spierkrag in die wêreld, sê Fuchs en Klann.
Die studie gaan nie in op die vraag of die bywoning van ’n verjaardagpartytjie ook ekonomiese straf tot gevolg het nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad