China: Skok ná kinders se dood in vullishouer
2012-11-22 09:26
Beijing – Vyf kinders se dood in ‘n vullishouer in Beijing het woede regoor China ontlok oor die land se sosiale verantwoordelikhede wat afgeskeep word.
Die seuns, wat almal broers of nefies tussen die ouderdomme van 9 en 13 was, het meestal sonder toesig by hul blinde ouma gebly omdat hul ouers ver van die huis af werk.
Die polisie sê hulle was al langer as ‘n week vermis toe hulle op 15 November ‘n vuur aangesteek het om warm te bly. Hulle is toe aan koolstofmonoksied-vergiftiging dood.
“Al het julle ons verlaat in ‘n vullishouer, is julle nie vullis nie,” het Zheng Yuanjie, ‘n kinderboek-skrywer, op sy mikroblog geskryf en bygevoeg dat die fout lê by volwassenes wat nie hul verantwoordelikhede na kom nie.
Daar is ook vrae oor hoe die kinders 10 dae lank vermis kon word sonder dat ‘n groter poging aangewend is om hulle te vind.
Ses plaaslike amptenare, insluitend twee skoolhoofde is Dinsdag in verband met die voorval afgedank.
“Ons het misluk in ons werk. Ons het nie genoeg aandag aan die voorval gegee nie,” het Tang Guangxing, ‘n regerinsgwoordvoerder, gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP