China: Ses vas ná stormloop vier kinders eis
2013-02-28 09:55
Beijing – Chinese owerhede het ses mense in hegtenis geneem ná ‘n stormloop by ‘n laerskool waarin vier kinders dood is toe hulle teen ‘n geslote hek vasgedruk is, het ‘n plaaslike beampte Donderdag aan AFP gesê.
Die ses – insluitend die skoolhoof – was onder 12 mense wat ondersoek word vir die ongeluk in Laohekou in die sentrale Hubei-provinsie, het ‘n stadsbeampte gesê.
Die stormloop het Woensdag om 18:00 plaasgevind toe ‘n groot aantal leerders hul skoolkoshuis op die vierde vloer verlaat en by die gebou probeer uitkom het. 'n Deur op die grondvloer was gesluit, wat gelei het tot die stormloop.
Sewe ander leerders is in die stormloop beseer, maar hul ouderdomme is nie bekend nie.
“Ses mense uit 12 wat ondersoek word is in aanhouding,” het ‘n plaaslike beampte met die van Zhong aan AFP gesê.
Die ongeluk het tot woede gelei op China se sosiale netwerke.
“Die kinders is die hoop van die moederland,” het een inskrywing op Sina Weibo, China se weergawe van Twitter, gelui.
“Al wat ek gesien het, is onderwysbeamptes wat ondervra word, maar ek wil ‘n vonnis sien.”
Veiligheid by Chinese skole het in onlangse jare ‘n groot kwessie geword.
Altesaam 41 kinders is in 2010 gehospitaliseer ná ‘n stormloop by ‘n laerskool in Aksu in China se Xinjang-provinsie.
Agt kinders is die jaar voor dit dood in ‘n stormloop by ‘n skool in die sentrale Hunan-provinsie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP