China: Nóg 600 in hospitaal met loodvergiftiging
2011-06-12 12:18
Beijing - Meer as 600 mense, insluitend 103 kinders, is in die hospitaal weens die jongste voorval van loodvergiftiging in China, het die staatsmedia Sondag berig.
China het in onlangse jare talle soortgelyke voorvalle gehad, met duisende kinders wat in 2009 en 2010 in verskeie provinsies loodvergiftiging opgedoen het.
Die slagoffers in die jongste voorval is die werkers (en hulle kinders) van 25 tinfoelie-werkswinkels in Yangxunqiao in die Zhejiang-provinsie in die ooste van China, het die Xinhua-nuusagentskap berig.
Volgens Xinhua het toetse aangedui dat 26 volwassenes en 103 kinders ernstige loodvergiftiging opgedoen het, terwyl 494 ander matige vergiftiging opgedoen het.
Lood word gebruik in die vervaardiging van tinfoelie, en volgens Xinhua is die werkers en hulle families deurlopend aan dié metaal blootgestel.
Die werkswinkels se bedrywighede word vir eers opgeskort.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP