China: 29 mynwerkers sterf in gasontploffing
2011-10-30 08:24
Beijing – Nege en twintig mynwerkers is in sentraal-China in ‘n gasontploffing by ‘n steenkoolmyn dood, het Chinese amptenare Sondag gesê.
Ses ander mynwerkers het die ontploffing, wat Saterdag by die myn in Hengyang in die Hunan-provinsie plaasgevind het, oorleef, het China se administrasie van werksveiligheid in ‘n verklaring gesê.
Vyf van die werkers is gered, terwyl een by ‘n skag van die Xialiuchong-steenkoolmyn uitgeklim het.
Die administrasie het gesê reddingswerk is voltooi, aangesien geen ander mynwerkers ten tyde van die ontploffing gewerk het nie.
Daar was glo ‘n reuse-uitlating van gas sowat 250 meter onder die grond. Dit het aan die brand geslaan as gevolg van vonke wat deur masjiene veroorsaak is, het Song Yuanming, die hoof van die provinsiale veiligheidsburo vir myne, aan CCTV gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP