China: 12 Leerders sterf in busongeluk
2011-12-12 23:05
Beijing – Twaalf leerders is in die ooste van China oorlede nadat die skoolbus wat hulle vervoer het, omgeslaan het.
Die ongeluk het omstreeks 18:00 in die Jiangsu-provinsie gebeur, het die nuusagentskap Xinhua berig en 'n munisipale regeringswoordvoerder aangehaal.
Die skoolbus, wat aan die primêre skool van die Zhanghoutun-streek behoort het, het probeer om 'n voertuig te vermy toe die ongeluk gebeur het, het Xinhua gesê.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
China se kabinet het Sondag voorgestelde regulasies, wat daarop gemik is om die veiligheid van skoolbusse te verbeter, gepubliseer nadat 19 leerders in November in 'n oorvol nege-sitplek bus gesterf het.
Die bus het 64 passasiers vervoer toe dit in die Gansu-provinsie teen 'n vragmotor gebots het. Twee volwassenes is ook in die ongeluk dood.
Dié ongeluk kom slegs 'n paar weke nadat sewe kinders in 'n ander skoolbusongeluk gesterf het.
Kinders word dikwels in busse ingeprop op pad skool toe, veral in plattelandse gebiede.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP