Chili: Mynwerkers sal dalk boek uitbring
2010-10-18 05:36
Copiapo, Chili – Meeste van Chili se 33 mynwerkers wat vir 69 dae ondergrond vasgekeer was, bly by hul ooreenkoms om die ergste deel van die voorval stil te hou.
Nietemin het een van die mynwerkers Sondag aangedui dat hy sal praat as hy betaal word.
Talle fliek- en boek-ooreenkomste het ingestroom sedert die mynwerkers Woensdag wonderbaarlik gered is en talle wil nou hul finansiële toekoms verseker,
Tot dusver het meeste van die mans nog nie oor die ergste oomblikke van die voorval in die tonnel sowat 625 meter ondergrond gepraat nie, veral nie oor die angsbevange 17 dae voordat hulle lewendig gevind is nie.
“Volgens die ooreenkoms kan ons nie oor die periode praat vandat die tonnel inmekaargestort het tot ons gered is nie,” het Mario Gomez, wat op 63 die oudste van die myners is, gesê.
“Ons het ‘n ooreenkoms om as ‘n groep te praat om te voorkom dat daar misverstande kom as ons elkeen apart praat,” het hy gesê.
Mario Sepulveda, die grapjas in die groep, het gesê dat hy soms hoop verloor het en dat hy een keer ‘n poets op die ander mynwerkers gebak en gemaak het of hy dood is.
Hy het gerugte van kannibalisme ontken, sowel as dat die mans seks gehad het terwyl hulle ondergrond vasgekeer was.
Victor Segovia het ‘n dagboek gehou en die mans beplan om dit in ‘n boek te laat uitgee. Dele van sy dagboek is geseël om te verseker dat dit ‘n geheim bly.
Sommige van die mynwerkers wil nie oor hul donkerste dae ondergrond praat nie, te midde sielkundiges se waarskuwings dat die ergste skade emosioneel kan wees en vir maande, of selfs jare, kan voortduur.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters