Chili: Diewe gee buit terug
2010-03-07 14:42
Concepción - Inwoners van Concepción, Chili, het goedere wat gedurende die week ná 'n reuse-aardbewing uit winkels gesteel is, begin teruggee.
Die diewe is blykbaar bang hulle word met gesteelde goedere in hulle besit gevang ná die weermag huise begin deursoek het vir buit, het 'n weermagbeampte in die Bio-Bio-area gesê.
"Ons gaan die rowers in hul eie huise betrap, hulle beter bekommerd wees," het gen. Guillermo Ramirez aan Radio Cooperativa gesê.
Verskeie soorte gesteelde goedere word terugbesorg aan winkels, het hy gesê.
Volgens owerhede het talle inwoners die chaos wat op 'n reuse-aardbewing gevolg het, gebruik om allerhande produkte, van kos tot wasmasjiene, uit winkels te steel wat tydens die aardbewing beskadig is.
Sowat 20 trokke se goedere, met 'n geraamde waarde van R28 miljoen, is sover teruggebring.
Chili begin vandag 'n routydperk vir die mense wat in die aardbewing en daaropvolgende tsoenami dood is.
Die amptelike sterftesyfer staan op 452.
- Sapa-dpa