Chili: Brand saai verwoesting in nasionale park
2011-12-31 15:00
Santiago – Chili het Vrydag een van sy mees gewilde nasionale parke in die piek stapseisoen gesluit nadat ‘n reuse-veldbrand tienduisende hektaar van die skone Patagonië verwoes het.
Hoë winde het die brande by die Torres del Paine Nasionale Park, ‘n 2 400 vierkante kilometer paradys van berge, gletsers, natuurlike woude en mere in die suide van die land, aangewakker.
Meer as 100 000 mense besoek die park jaarliks.
President Sebastian Pinera het aangekondig dat die park vir Januarie gesluit sal wees.
Sowat 11 000 hektaar veld en plante, byna vier persent van die totale area van die park, is reeds deur die brand verwoes.
Die brand het in minder as 24 uur vervierdubbel.
Die regering in Chili het vier vliegtuie en ‘n helikopter na die afgeleë bergagtige streek ontplooi. Altesaam 300 brandbestryders, soldate en natuurbewaarders het geswoeg om die brand onder beheer te bring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP