Chileense president: 'Niks is verniet nie'
2011-08-12 12:02
Santiago – Sebastian Pinera, president van Chili, het studente se eise vir gratis opvoeding by universiteite afgejak en gesê “niks in die lewe is verniet nie.”
Die president het hom oor die onlangse massa-betogings deur studente uitgespreek.
“Ons wil almal opvoeding, gesondheidsorg en baie ander dinge verniet hê, maar ek wil hulle herinner dat niks in hierdie lewe gratis is nie. Iemand moet betaal,” het Pinera Donderdag by die presidensiële paleis, La Moneda, gesê.
‘n Gratis sisteem vir openbare opvoeding vir alle mense is die hoof-vereiste van betogers wat die strate invaar en ‘n reeks massa-optogte hou.
Die optogte kom nadat Pinera twee maande gelede aangekondig het dat sy regering minder geld aan onderwys moet bestee.
Die betogings, wat Pinera se gewildheid ‘n ernstige knou toegedien het, word grotendeels deur die publiek ondersteun.
Vakbonde wat openbare werkers en kopermynwerkers verteenwoordig, het aangekondig dat hulle die studente sal bystaan. Hierdie word beskou as ‘n teken van addisionele weerstand teen Pinera.
Pinera is Chili se eerste konserwatiewe president sedert die diktatorskap van genl. Augusto Pinochet in 1990 tot ‘n val gekom het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP