Chileense mynwerker in New York Marathon
2010-11-02 05:40
New York – Die Chileense mynwerker wat in die tonnels gedraf het terwyl hy ondergrond vasgekeer was, sal nie net Sondag se New York City Marathon bywoon nie, maar self daaraan deelneem.
Beamptes van die marathon het Edison Pena genooi om die wedloop te kom kyk nadat hulle sy storie gehoor het toe die mans verlede maand gered is.
Hulle het gedink hy kan in die voorste voertuig ry of die lint by die eindstreep vashou, maar hulle het nooit verwag dat hy sal sê hy wil deelneem nie.
“Hy wil verseker, 100 persent deelneem,” het Mary Wittenburg, president van die New York Road Runners Maandagmiddag gesê.
Organiseerders van die marathon was nog besig om Pena se vlug na New York te reël en te besluit hoe om hom te vereer.
Pena was een van die 33 mynwerkers wat vir 69 dae ondergrond vasgekeer was nadat ‘n myn in Chili inmekaargestort het.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP