Chavez wen verkiesing in Venezuela
2012-10-08 07:00
Caracas – Pres. Hugo Chavez van Venezuela is Sondag tot nog 'n termyn verkies nadat hy 54,42% van die stemme gekry het, het die nasionale verkiesingsraad gesê.
Vuurwerke is regoor Caracas afgevuur kort nadat Tibisay Lucena, hoof van die verkiesingsraad, dié aankondiging gemaak het.
Chavez se teenstander, Henrique Capriles, het 44,97% van die stemme gekry.
"Dankie my liewe mense!!! Viva Venezuela!!!" het Chavez op Twitter geskryf nadat die uitslae gepubliseer is.
Lucena het gesê Chavez het, gebaseer op 90% van die uitslae, 7 444 082 stemme gekry in vergelyking met 6 151 554 vir Capriles. Altesaam, 80,94% van die 19 miljoen stemgeregtigde kiesers het opgedaag.
"Ons het 'n kalm verkiesingsproses gehad," het Lucena gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP