Chavez druk kontroversiële wet deur
2009-08-14 21:10
Caracas, Venezuela – Die nasionale vergadering het Vrydag kontroversiële nuwe wetgewing, gemik op universiteite en die media, goedgekeur.
Diegene wat gekant is teen die nuwe wet meen dit streef daarna om studente met sosialistiese idees te indoktrineer en die vryheid van die pers te beperk.
Die woordvoerder vir die nasionale vergadering, Cilia Flores, het gesê die wet beaam “die verantwoordelikheid, reg en plig wat families het om waardes, beginsels, korrekte houdings, reëls en gewoontes in hul kinders te kweek.”
Die nuwe wet verbied die media om “enige nuus wat kinders verskrik of haat kweek, te publiseer.”
Dit voer verder dat nuus wat die “gesonde waardes van Venezolaanse burgers of die fisiese en geestelike gesondheid van die bevolking aanval,” nie gepubliseer mag word nie.
Die regering voer ook dat die nuwe onderwyswetgewing die land se universiteite meer onafhanklikheid sal gee.
Groepe gekant teen die wetgewing is egter van mening dat dit studente in die regering se sosialistiese ideologie sal inforseer.
Lede van PODEMOS, Venezuela se opposisieparty, het uit parlement uitgestap in protes teen die instemming van die wet.
-Sapa-dpa