Chaos toe brand op Noorse passasierskip uitbreek
2011-09-15 13:59
Oslo – ‘n Noorse passasierskip met 262 mense aan boord is ontruim nadat dit naby Noorweë se weskus aan die brand geslaan het.
Polisielede sê 106 passasiers is in reddingsbote gelaai voordat die MS Nordlys die hawe in Alesund, 375 km noordwes van Oslo, bereik het.
Die oorblywende passasiers en sekere bemanningslede het die skip verlaat toe dit by die hawe vasgemeer het. Rook het steeds by die skip uitgeborrel. ‘n Aantal bemanningslede het aan boord gebly om die brand te probeer blus.
AP het intussen berig dat twee mense in die voorval dood is.
Die polisie is ingelig dat vier mense vermis word. Hierdie kon nie onmiddellik bevestig word nie.
Ses mense is na ‘n hospitaal geneem. Hospitaalbeamptes sê minstens twee van hulle het ernstige brandwonde opgedoen.
Beamptes sê die brand het Donderdag om 09:20 (SA tyd) in die skip se enjinkamer uitgebreek voordat die skip in Alesund aangekom het.
Polisiebeamptes sê dele van Alesund is afgesper as gevolg van die hewige rook.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP