Cameron 'spyt' oor aanstel van segsman
2011-07-21 07:08
Londen – David Cameron, Britse premier, is nou spyt hy het ’n koerantredakteur, wat daarvan verdink word dat hy aandadig was aan die mediaskandaal in Brittanje, as woordvoerder aangestel.
Cameron het Woensdag in die Britse parlement ’n uitvoerige verklaring gedoen oor die indiensneming van Andy Coulson, voormalige redakteur van News of the World (NoW).
Coulson, wat intussen onder groot druk uit Cameron se diens bedank het, is uit op borgtog weens sy rol in die skandaal.
Cameron het tot dusver hardnekkig gehou by sy standpunt dat hy tydens Coulson se indiensneming nie bewus was van enige wetsoortreding deur die voormalige redakteur van Brittanje se grootste koerant nie.
Woensdag het hy in die parlementêre debat, wat regstreeks deur SkyNews uitgesaai is, gesê as hy destyds geweet het wat hy nou weet, sou hy Coulson nie aangestel het nie.
“Jy leef en leer en glo my, ek het geleer,” het Cameron aan ’n stampvol laerhuis gesê.
Hy het onderneem, indien Coulson wel skuldig is, om die land en die parlement “nederig om verskoning te vra”.
Hy het egter nie aan Ed Miliband, leier van die opposisie, se aandrang voldoen om dit nou reeds te doen nie.
Cameron het tydens sy toespraak die opdrag van die regterlike kommissie uiteengesit wat die skandaal moet ondersoek.
Die ondersoek onder voorsitterskap van regter Brian Levenson sal binne weke begin en ’n jaar duur.
Levenson het die reg om joernaliste en koerantbase in die hele Britse mediabedryf te dagvaar om voor hom te verskyn.
Dit geld ook alle polisielede wat by die skandaal betrokke kan wees.
Die ondersoek behels ook die “kultuur, praktyke en etiese aard” van die Britse pers.
Daar sal ook in besonder ondersoek ingestel word na Rupert Murdoch se rol in en eienaarskap van koerante en ander media-instellings in Brittanje.
Murdoch se News Corporation en News International het NoW besit voordat dit sowat twee weke gelede weens die skandaal gesluit is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld